Wednesday, April 29, 2009

-Kinderkuns-
Ek moet nou eers bietjie spog met my klein oulike seuna.

Hy is baie lief om te teken. Hierdie meesterstukke het hy spesiaal vir sy mamma se gang muur geskilder, en self benoem, die een in die blou raam is, 'reenboog van Max,' die pienk een se naam is mollie-mollie, en die groen een is Caliper- volgens hom beteken dit beautiful.

Dan is hy baie lief om balon manne te maak. En daar word nie net een gemaak nie, - daar moet 'n familie wees anders gaan die een mos baie eensaam en alleen wees.


Moet nie die dinosaur vergeet nie.


Hiedie een kan mens baie duidelik sien dat dit Jona in die walvis se maag is.


En oom Jan se trokkie of te wel trekkertjie, is ook 'n gunsteling om gereeld te teken.


Ons groot man kan tot sy eie naam skryf en deesdae begin hy woordjies soos kat ook te skryf.


En hier is sy oupa op 'n fiets,-Oupa Ockie het 'n fiets en moterfiets waarmee hy gewoonlik werk toe ry.
En toe ons vir hom die dag sy eie fiets gekoop het, moes ons vir hom 'n rooi fiets soos oupa sin gekoop het, nou ja- deesdae word oupa ook geteken.


Die 3 varkies se huisies word ook soms geteken, maar op hierdie prentjie het die 3de varkie se baksteen huisie sommer pilare bygekry om dit sterker te maak teen die wolf.

'n Spesiale prentjie van ouma is ook geteken,
hier is ouma met 'n skulpie in haar hand, sy het 'n poniestert op haar kop, en sy het 'n rokkie aan, met groot skoene want sy werk in die tuin. O ja, en sy het 'n groot glimlag op haar mond want sy is mos 'n vriendelike ouma.
En dit is mamma, op die bank terwyl sy Tv kyk. (nie dat mamma so baie tyd het om gereeld so lekker te sit en Tv te kyk nie)

Dadda, en mamma, hulle smile want hulle is baie bly......


Hierdie is 'n projek wat Jata en boeta saam aangepak het, elke dag maak hulle 'n ietsie vir hulle "see-muur" in boeta se kamer, -Jata teten dit en boeta doen die verf werk,- maar die muur staan nou stil want dit mag nie saam mamma gedoen word nie ons moet vir Jat's wag om terug te kom en dan kan hulle weer 'teten' en verf.
Die wolf en die slim varkie.
Ag en daar is vele meer, maar die blog is nie groot genoeg vir alles wat hierdie trotse mamma wil opsit nie. Ons geniet mekaar en ons geniet ons leer tyd in die oggend. Ek weet net nie meer waar om alles te bere en te plak nie, want die mure en yskas is al vol, ek sal maar 'n krat of iets moet kry daarvoor....

Thursday, April 23, 2009

-DUBAI DRAAI-






Flattie het bietjie besigheid kom doen in Dubai.



Flattie is manlief se suster, en die bynaam flattie kom van al die pap wiele wat sy al gehad het.So het haar ander 2 kleinkinders haar gedoop.


Ons het vir haar en twee van haar besigheids kolegas in 'n eetplek in die Mall of the Emirates gekry, gou daar 'n ietsie ligs gebyt, en toe het ons hulle op versoek na Palm Jumeirah toe gevat.




In die agterkant van seuna en Jata, is Ski Dubai en die sneeu man het heeltyd vir ons gestaan en kyk dat boeta sy kossies moet op eet.


Op die eiland sien ons die aller mooiste villas, en daar is so nou en dan 'n limo wat verby ons ry, dan kan mens nie anders as om te wonder wie daarin is nie. Watter bekende of dalk 'n minister of so iets, of dalk 'n gewone ou wat hom treat vir die dag. In elkgeval, mens kan maar net wonder, want die vensters is so donker mens kan regtig niks daardeur sien nie.

Wanneer mens op die eiland self is, dan kan jy dit nie sien soos dit op die GPS is nie, daarom het ons die foto geneem om te wys dat ons wel daarop is en waar ons op die eiland is.

Wanneer jy aan die punt van die eiland kom ry jy onder deur 'n tonnel wat onder die water gegrou is om by Atlantis uit te kom, of so dink ons want dit is hoe dit op die GPS voorgestel word.

Aan dia anderkant by Atlantis aangekom, is daar ook 'n paar limos te siene. Hierdie een moes seker dien as 'n troukar, want hy was vol blomme voor en agter die motor.


Ja en hier maak ons soos 'n regte Suid Afrikaanse taxi,- maak 'n gaatjie vir almal om saam te ry. Flattie en haar besighieds maatjies wou taxi ry, maar ons het nie kans gesien om agter 'n taxi aan te jaag nie, en maak toe gou 'n boere plan. Gelukkig is Jay nog baie flexable so ons kon hom baie maklik agter indruk saam seuna.

Nou ja swaerries, -wat meer kan mens se?

Hierdie Sol kan maar dinge doen.(Atlantis is Sol Kerzner se nuutste projek gewees tot dit in September laasjaar ge-open is)

Die GPS wys ons is op die tippie van Palm Jumeirah.

'n Kuier saam met die sandvlooi'e is nie 'n kuier as jy nie eers jou voete in die see gaan nat maak het nie, en waar beter as by die Burj Al Arab se strand. Kyk hier kry Flattie 'n les by die kleinman hoe dit gedoen word.

En hierdie is ook 'n verskynsel wat mens nie elke dag te siene gaan kry nie,...klein boet was ou sus se voete. Dis nou wat mens noem om te dien....Lol!


Dankie vir 'n heerlike middag Flats!


Sien jou binnekort.

Sunday, April 19, 2009

Redbull AIR Race Abu Dhabi

Ons het die naweek die Redbull Air Race hier by ons in Abu Dhabi bygewoon.
Dit was 'n belewenis, en great om deel van te wees.


Heel gepas was die vliegtuig, geborg deur Abu Dhabi Tourism Authority en gevlieg deur Hannes Arch van Oostenryk, toe ook die uiteindelike wenner!




Volgens die kommentators en die TV uitsending, was daar na raming 100 000 duisend mense wat dit hierdie jaar op Abu Dhabi Corniche bygewoon het.


In die agtergrond is Lulu Eiland, en net skuins regs daaragter het hulle sommer van die hawe af 'n tydelike "runway"(aanloopbaan) gemaak, vanwaar die vliegtuie opgestyg het.



Die mense het tussen die vliegkyk deur in die see gaan afkoel, en die see se is besig het al heelwat gestyg in die laaste paar weke en is baie aangenaam.












Hierdie vliegtuig (2 fotos bo en een onder) het die linker "cone" met sy vlerk gesny, en waardevolle sekondes verloor.

Dit vat skaars 'n paar minute dan als weer opgestel vir die volgende rondte.



Ons het dit waarlik geniet, en die hele "event" was baie goed beplan.


As 'n bonus het hulle ook die aand 'n vuurwerk vertoning aangebied wat ons nie eens van geweet het nie, gelukkig het ons dit op die een kennisgewing bord raakgelees!



Net na sewe uur het dit begin, en die keer het ons oorkant die Corniche op die breakwater gaan sit en 'n manjifieke uitsig op die vuurwerkvertoning gehad.



Hulle het die meeste van die vuurwerke van drie vlotte in die see tussen die corniche en die breakwater afgeskiet.



Met tye was dit oorverdowend, en dit het soms jou hele liggaam van jou binneste af geruk, so sterk was dit.


'n Helikopter het die res van die vuurwerke uit die lug uit gevuur om die op die grondvlak te komplimenteer.



Baie mooi! -Asemrowend.



Dit was een lekker dag en aand, en wat 'n voorreg is dit nie om sulke events te kan bywoon nie! Gelukkig het Abu Dhabi min diere, en hopelik was dit ver genoeg van die straatkatjies af om hulle nie te veel te pla nie.

Monday, April 13, 2009

-DIE RES VAN
UMM AL QUWAIN-

Soos ek in die vorige inskrywing genoem het, hierdie ou dorpie het die oulikste sirkels.

Hier is 'n paar van hulle, ek weet nie wat is die betekenis of geskiedenis daaragter nie, maar dit is baie mooi.






Ons moes stop vir 'n ietsie om te drink, so toe kom ons op hierdie baie 'groot' winkeltjie af.

Reg agter die winkeltjie is daar hierdie hawe, daar is nie eers 'n reeling of iets wat veilighied bied nie, en reg oorkant die pad speel klein kindertjies sonder toesig. Ai man ai! Binne 'n kwessie van paar minute steek daar toe so 'n woeste wind op dat mens nie kan glo dat die see so gou so rof kan raak nie! Ons besluit toe om nie uit te klim nie want ons is nie lus vir sand in ons oe nie.

Ons besluit toe om maar huiswaarts te keer met die wind, want dit lyk vir ons na 'n "shamal".
Padlangs sien ons hierdie ou vliegtuig. Mens kan net wonder hoe hy tot daar gekom het, en wat met hom verkeerd gegaan het dat hy nooit weer sy pad uit en van hierdie plekkie af kon vind nie.

En toe iemand met inisiatief - die het toe besluit dit is die perfekte plek om hul hotel te adverteer.

Die wind het so woes begin waai dat mens met tye amper nie eers die motor voor jou kon raaksien nie. Dit het ons haastig gemaak, maar ons was maar geduldig, want dit is juis in hierdie omstandighede wat jy vir jouself en die ander bestuurders om jou ook moet dink....

En met die inry in Dubai in kom ons op hierdie tragiese toneel af. Ons het maar verby beweeg, maar mens kan nie anders as om te wonder wat nou hier gebeur het nie, en of die mense in die kar darm veilig daaruit kon kom. Mens hoor nogal gereeld op die radio van motors hier op ons paaie wat aan die brand slaan.

In die stad kan mens sien dat die sandstorm hier ook besig is om al hoe meer sigbaar te word.

Dit was ons eerste ervaring en kuiertjie deur die Emirate. Ons sal dit beslis weer doen en volgende keer al die ander dinge en plekke besoek waarby ons nie hierdie keer kon uitkom nie.
...Dankie vir die saam kuier....