Tuesday, September 22, 2009

So ry die Trein.


Ons het die pas ge-opende Metro in Dubai die afgelope week gebruik om bietjie in Dubai rond te karjakker. Vir mense van Suid Afrika is dit 'n voorreg om so iets te gebruik, en ai, maak dit darm dinge vir mens maklik om nie deur al die verkeer te sukkel nie! Hier is die roete van die rooi lyn wat op die oomblik van die eerste fases is wat gebruik word, met 10 van die 29 stasies wat al in gebruik is. Links bo op die foto is die Palm Jumeirah, wat ook 'n metro het met so 3 stasies, en dit bied die mooiste uitsig op die elegante en luukse villas op die palm.

Die treine is onbeman, en dit gee ons die kans om heel voor te staan en lekker fotos te neem en gee ons 'n ander uitsig op die rit.

Hier kom een van die ander treine verby gery, met 'n jong kind wat "trein drywer" speel. In die agtergrond is die alombekende gebouery van Dubai met hys krane, wat die andersins skonerige dag met stof 'n bietjie valer laat lyk, soos op die fotos gesien kan word.

Dit is hoe hierdie treine in die binnekant lyk. Dit het klimaatbeheerde kajuite(20 tot 24 Grade), met gerieflike sitplekke. Daar is bietjie min dakhandvatsels vir persone wat staan, maar verder is hulle spiekeries.(Lanklaas daai woord gebruik of gehoor.)

Stasie aankondigings is duidelik hoorbaar en sigbaar op die skerms, en natuurlik is daar soveel sekuriteit, kameras en beheer oor alles(tipies UAE), dat mens maar net kan dink die toerusting lank in so 'n goeie toestand sal bly, vry van vandalisasie en plundering.


Hier sit die dad, en daar is juis twee sekuriteit en beheer personeellede(hulle gee ook vriendelike inligting) agter hom besig om te gesels. Daar is ook 'n goue klas wat duurder kos om te ry, in die een kant van die trein, en ook 'n afdeling vir vroue en kinders alleen.

Seuna sit al te lekker en geniet die treinrit! Wie bestuur dan die trein as daar niemand voor is soos met die treine in Turkye nie, wil hy weet?


Perel duik was jare terug, voor olie(swartgoud) ontdek is, 'n groot inkomste vir die UAE se mense, en hulle satsies is so gebou om dit uit te beeld, soos op die foto gesien kan word. Die satsie is nog onvoltooid, en dit sal in die volgende paar maande oopmaak. Onder die stasie kan mens die Sheikh Zayed snelweg sien, wat mender verkeer behoort te dra, as mense meer die metro gebruik. Ons kon al 'n klein verskil opmerk, maar bygese, dit was Ramadan en dan is dinge bietjie stiller teen laatmiddag/aand se kant.


Die stasies is besonders mooi, en die teelwerk en afronding orals in die stasies is regtig iets om op trots te wees. Baie dankie aan die "arme" werkers wat so hard in die hitte geswoeg het om so 'n mooi produk te lewer, dit is werklik baie mooi. Agter ons twee is die deure wat oopmaak as die trein stilstaan by sy platform. Goeie veiligheidsmaatreel wat dan verhoed dat mense nie voor die trein kan beland nie.

Dit is die keer vir manlief so 'n plesier, want hy hoef nie die pad/verkeer dop te hou nie, en kan self lekker na die geboue om ons kyk. Hier is die hoogste gebou op aarde(vir die oomblik), die Burj Dubai. Die geboue langs hom in die agtergrond regs is self groot menere, so by die veertig/vyftig verdiepings hoog, maar lyk soos dwergies teen die Yster. Op sy 114de vloer (of daar rond),
gaan hulle binnekort 'n uitsigpunt maak, blykbaar met glasvloere, om deur te sien tot op die grond, ons sal maar nog besluit of ons genoeg guts het om dit te sien.

Hier is 'n puik foto van die Burj Dubai, tussen van die geboue in die World Trade Centre omgewing. Juan het van die fotos geneem, dankie vir die een.


Hier is die bekende Burj Al Arab, geneem laatmiddag, net voor sonsondergang.



Nog 'n paar fotos vanuit die metro, met die winkel wat heelwat Suid Afrikaanse produkte verkoop, naamlik Spinneys, regs onder. Ons het nou die dag gehoor dat hulle selfs ook Redro Fishpaste nou op die rakke het. Dis lekker om net te sit en rondkyk, en nie oor swak motorbestuurders te moet bekommer nie!

Ons het sommer by Mall of the Emirates gaan eet, en sommer vir Juan gewys hoe dit daar lyk met die snow world in die agtergrond. Dubai is regtig nogal 'n lekker metropolitaanse stad, wat nou met die metro ook in sy arsenaal, begin om na 'n wereldklas stad te lyk. Ons is voorwaar dankbaar vir die voorreg om al die dinge te kan meemaak en te kan deel, ons in Abu Dhabi sal nog so vyf jaar of so moet wag vir ons metro, as als volgens plan verloop. Intussen sal ons maar Dubai sin gebruik!


Thursday, September 17, 2009

'n Tyd vir Groei

Dit doen my hart en gemoed altyd so goed om die wonder van groei om my te sien.

Dit is lekker om te sien hoe die bome en blomme uitloop, en dit als dui op die begin van 'n nuwe en vars seisoen.
'n Seisoen waar daar nuwe goed gaan gebeur,
nuwe uitdagings, nuwe lewe in alle fasette.

Soms breek die seisoen te gou aan, selfs onverwags, maar dit bou karakter.
Ek is gereed vir 'n nuwe seisoen in my lewe en ek gaan elke dag van die nuwe seisoen aangryp en 'n sukses daarvaan probeer maak.

Sunday, September 13, 2009

Een woord Beskrywing!


Ek is deur Sandra getag om haar in een woord te beskryf.
Nou ja , - Dit is nie eintlik maklik om enige mens in een woord te beskryf nie.

Ons het Sandra maar deur haar blog leer ken, toe ons ondersoek ingestel het oor die UAE, want ons het 'n werksgeleentheid hier gekry en op daardie staduim niks van die plek af geweet nie. Ons het begin comment op haar inskrywings en later begin e-mails stuur.
Sy het ons regtig goeie raad gegee, en baie goed gehelp met al ons vrae.

Met ons aankoms hier het sy vir manlief onder haar vlerk geneem en hom 'n paar dinge gaan wys en vir hom mooi gehelp om sy voete te vind, en darm die basiese ding te kon doen, tot ek en seuna by hom aangelsuit het.

Daarna het sy my op 'n plek ontmoet, en my ook 'n paar plekke gaan wys waar mens die nodigste dinge in 'n vreemde land kon aanskaf en kry.

Ons het 'n paar keer al lekker gekuier, en ook lekker saam met haar en Charmaine gepiekniek.
En nogsteeds met elke kuier en piekniek het sy vir ons nuwe dinge vertel wat ons so bietjie meer van dinge hier rond geleer het.

Natuurlik kan mens vir Sandra enige tyd van die dag bel en vir raad vra, nie net oor die land en van plekke nie, maar sommer persoonlike raad ook.
En sy luister altyd, maak nie saak hoe besig sy is nie, en dan werk die raad ook altyd wat sy vir mens gee.

So as ek vir Sandra in een woord moet beskryf, behalwe vir al die ander dinge (woorde) wat al die ander blog maats al gese het, en haar ook beskryf sal ek die woord....

...WYSHEID...
gebruik want Sandra is 'n baie belese mens, vol WYSHEID en kennis!

En dan wil ek sommer weereens baie dankie se vir al jou wyse raad en altyd se luister.
Nou moet ek ander ook tag, maar ek glo amper almal het al aan die tag deel geneem.
So... wie ookal saam wil speel voel welkom om dit te doen!

Monday, September 7, 2009

Reguit van Bella Bella na Buffies toe.


Na ons lekker kuiertjie by Klein Kariba het ons na Buffelspoort toe gegaan, vir nog 'n week van lekker kuier en swem.

Toe ons by ons rondawel aankom, wag hierdie mooie swart kieterkat ons toe in, en verwelkom ons hartlik by ons huisie vir ons kuier.

Ons kleinman het natuurlik gedink dat dit Furby se pappa is, en gelukkig vir ons en hom was meneer kat baie vriendelik, en hy het die liefde van seuna gelief.


Omdat ons nie by ons familie en vriende gaan kuier het nie, het ons vir die wat kon gevra om vir ons by die oord te kom kuier, en so het Wynand vir 2 dae saam met ons by die oord deurgebring. Ons het lekker besigheid gesels en opgevang met dinge wat oral aan die gebeur is.

Rita en Andre sou ook kom kuier het, maar hulle seuntjie het waterpokkies gehad, en toe kon ons nou nie kuier soos beplan nie. Maar ons het darm 'n dag voordat ons terug gevlieg het 'n kort kuiertjie ingepas.


Kyk ons het werklikwaar nie net lekker weer gehad nie, maar ons het net so lekker gebraai. Mens kan mos nou nie kuier sonder 'n lekker vuurtjie wat sommer net na Afrika ruik nie, en dan kan mens nie braai sonder boerewors nie of hoe?




Die manne braai buite terwyl ons 'n slaaitjie of 2 aanmekaar slaan. Dit was nie regtig koud in die aande nie, net bietjie vars. - En daar is min dinge so lekker om so nou en dan 'n warm dingetjie aan te trek.



Die oord het wanneer dit donker geword het, so 'n half romantiese bekoring ingehou, veral met die blou lug en die pienk/pers van die mooi sonsondergange.

Die onderdak swembad was heerlik, en die water was ook heerlik, nie te warm nie en ook nie te koud nie, net lekker,-ons het elke geleentheid wat ons kon swem, gaan swem. Ons was soos visse in die water, en boeta het dit baaaaie geniet.


En so kom alle lekker dinge ook tot 'n end. Dit is nou wel die minder lekker van so lekker kuier, maar ons is dankbaar vir die tydjie wat ons wel saam met ons geliefdes kon spandeer.

Ons het die week en naweek afgesluit met 'n kiekie en daarna het ons by die pragtige Harties omgery terug huistoe.....

Saturday, September 5, 2009

'n Heerlike Naweek

Ons kuiertjie by Klein Kariba hierdie jaar was baie spesiaal.

Ons almal (met ander woorde al 4 my boeties en hul wederhelftes) was daar en kon dinge so reel dat niemand enige ander verpligtinge gehad het nie.(Wow, in die gejaagde lewe van vandag...!!)


En glo my dit was regtig baie lekker gewees om bietjie vir 2 dae net weer te kon opvang en net lekker te kon kuier. Ockie en Melissa het 'n nuwe kleinding ryker geword, en ons kon bietjie met die nuwe pop kennis maak en lekker gespeel.

Ons kleinman het natuurlik baie lekker met sy niggie gespeel en glo my hy het haar nie vir een oomblik gelos nie. Hy het haar op gespeel, en tussen die twee van hulle het hulle ook gesorg dat hulle pappas by 'ryk' geword het van al die plase wat hulle gekoop het. Shame hulle het hulle kniegies omtrent stukkend geval. Maar na 'n vreeslike tranedal het hulle dapper opgestaan en verder gespeel.,-seker gemaak dat hulle goeie benutting van elke sekond en uur kon uitkry.


Die weer was heerlik en ons kon regtig nie kla daaroor nie. Ons het lekker warm in die dag gekry, sonder om nat en taai te voel, en ons kon lekker in die aand met 'n veredons duvet geslaap het.


Almal kon lekker swem en in die water baljaar. Wat baie lekker is van klein kariba is dat hulle 'n warm water swembad onderdak het, en daar kon die kindertjies lekker swem sonder om koud te kry met die koel winters luggie wat soms buite gewaai het.

Die twee was soos vissies in die water en hulle het oupa Ockie en Dine se pappa Ockie lekker moeg gespeel in die swembad.


Selfs ons nuwe poplap Zante het haar beurt in die swembad gehad, sy is oor 'n paar daggies 'n volle 3 maande oud. Maar te cute vir woorde, sy is so bang sy mis iets opwindend. Maar sy is 'n baie gelukkige mensie, want sy het die hele naweek niks gehuil nie.


En hierdie klomp het 'n lekker laatnag swem ingepas nadat ons lekker gebraai het.


En hier speel oom Dewald met die twee karnallies voordat hulle almal die pad huistoe gevat het, ons het nog 'n dag langer gebly en toe na Buffelspoort toe gegaan.


....and we all fall down....