Tuesday, September 22, 2009

So ry die Trein.


Ons het die pas ge-opende Metro in Dubai die afgelope week gebruik om bietjie in Dubai rond te karjakker. Vir mense van Suid Afrika is dit 'n voorreg om so iets te gebruik, en ai, maak dit darm dinge vir mens maklik om nie deur al die verkeer te sukkel nie! Hier is die roete van die rooi lyn wat op die oomblik van die eerste fases is wat gebruik word, met 10 van die 29 stasies wat al in gebruik is. Links bo op die foto is die Palm Jumeirah, wat ook 'n metro het met so 3 stasies, en dit bied die mooiste uitsig op die elegante en luukse villas op die palm.

Die treine is onbeman, en dit gee ons die kans om heel voor te staan en lekker fotos te neem en gee ons 'n ander uitsig op die rit.

Hier kom een van die ander treine verby gery, met 'n jong kind wat "trein drywer" speel. In die agtergrond is die alombekende gebouery van Dubai met hys krane, wat die andersins skonerige dag met stof 'n bietjie valer laat lyk, soos op die fotos gesien kan word.

Dit is hoe hierdie treine in die binnekant lyk. Dit het klimaatbeheerde kajuite(20 tot 24 Grade), met gerieflike sitplekke. Daar is bietjie min dakhandvatsels vir persone wat staan, maar verder is hulle spiekeries.(Lanklaas daai woord gebruik of gehoor.)

Stasie aankondigings is duidelik hoorbaar en sigbaar op die skerms, en natuurlik is daar soveel sekuriteit, kameras en beheer oor alles(tipies UAE), dat mens maar net kan dink die toerusting lank in so 'n goeie toestand sal bly, vry van vandalisasie en plundering.


Hier sit die dad, en daar is juis twee sekuriteit en beheer personeellede(hulle gee ook vriendelike inligting) agter hom besig om te gesels. Daar is ook 'n goue klas wat duurder kos om te ry, in die een kant van die trein, en ook 'n afdeling vir vroue en kinders alleen.

Seuna sit al te lekker en geniet die treinrit! Wie bestuur dan die trein as daar niemand voor is soos met die treine in Turkye nie, wil hy weet?


Perel duik was jare terug, voor olie(swartgoud) ontdek is, 'n groot inkomste vir die UAE se mense, en hulle satsies is so gebou om dit uit te beeld, soos op die foto gesien kan word. Die satsie is nog onvoltooid, en dit sal in die volgende paar maande oopmaak. Onder die stasie kan mens die Sheikh Zayed snelweg sien, wat mender verkeer behoort te dra, as mense meer die metro gebruik. Ons kon al 'n klein verskil opmerk, maar bygese, dit was Ramadan en dan is dinge bietjie stiller teen laatmiddag/aand se kant.


Die stasies is besonders mooi, en die teelwerk en afronding orals in die stasies is regtig iets om op trots te wees. Baie dankie aan die "arme" werkers wat so hard in die hitte geswoeg het om so 'n mooi produk te lewer, dit is werklik baie mooi. Agter ons twee is die deure wat oopmaak as die trein stilstaan by sy platform. Goeie veiligheidsmaatreel wat dan verhoed dat mense nie voor die trein kan beland nie.

Dit is die keer vir manlief so 'n plesier, want hy hoef nie die pad/verkeer dop te hou nie, en kan self lekker na die geboue om ons kyk. Hier is die hoogste gebou op aarde(vir die oomblik), die Burj Dubai. Die geboue langs hom in die agtergrond regs is self groot menere, so by die veertig/vyftig verdiepings hoog, maar lyk soos dwergies teen die Yster. Op sy 114de vloer (of daar rond),
gaan hulle binnekort 'n uitsigpunt maak, blykbaar met glasvloere, om deur te sien tot op die grond, ons sal maar nog besluit of ons genoeg guts het om dit te sien.

Hier is 'n puik foto van die Burj Dubai, tussen van die geboue in die World Trade Centre omgewing. Juan het van die fotos geneem, dankie vir die een.


Hier is die bekende Burj Al Arab, geneem laatmiddag, net voor sonsondergang.



Nog 'n paar fotos vanuit die metro, met die winkel wat heelwat Suid Afrikaanse produkte verkoop, naamlik Spinneys, regs onder. Ons het nou die dag gehoor dat hulle selfs ook Redro Fishpaste nou op die rakke het. Dis lekker om net te sit en rondkyk, en nie oor swak motorbestuurders te moet bekommer nie!

Ons het sommer by Mall of the Emirates gaan eet, en sommer vir Juan gewys hoe dit daar lyk met die snow world in die agtergrond. Dubai is regtig nogal 'n lekker metropolitaanse stad, wat nou met die metro ook in sy arsenaal, begin om na 'n wereldklas stad te lyk. Ons is voorwaar dankbaar vir die voorreg om al die dinge te kan meemaak en te kan deel, ons in Abu Dhabi sal nog so vyf jaar of so moet wag vir ons metro, as als volgens plan verloop. Intussen sal ons maar Dubai sin gebruik!


5 comments:

Muriel said...

Baie mooi, indrukwekkend, netjies en veilig.

Ek gaan nou bietjie afdwaal,kan myself nie keer nie - die vergelyking is net te groot. *wink* Ons was laasweek in Pretoria Stad, kom nie baie daar nie. Ek ly nou nog aan vertraagde skok. Die plek lyk sleg, orals lê papiere, mooi woonstel geboue se vensters is gebreek en wasgoed wapper by die vensters uit. Dit maak mens nogal hartseer want eens op 'n tyd was dit skoon en veilig.

Ek het jou foto's van die geboue baie geniet. Dankie

Mooi bly!

Thea said...

Ek stem, vir ons Suid-Afrikaners wat nie so iets gewoond is nie, is dit awesome! Ek ry ook baie eerder in 'n lugversorgde trein voor ek in verkeersknope vasgevang sit. Ag, dit lyk net so lekker, ek is sommer groen van jaloesie! :-)

Sandra said...

En so was die hele Abu Dhabi in Dubai die naweek :-). Ek's seker daai kleinman het die treinry baie geniet.

Jan and Miekie said...

Dit lyk pragtig! 'n Metro met so 'n uitsig - en skoon en blink en veilig. Wens ons het so iets gehad. Ons metro treine is nou ja...nie juis iets wat 'n mens graag wil gebruik nie! My Pa het destyds baie treingery na Jhb bv. vir vergaderings (ons het in Pta gebly) maar dit was DESTYDS. Ons hoop maar die Gautrein gaan 'n sukses wees.

RITA said...

Ja wat kan ek se. Ek het nou lekker saam met julle trein gery. Dit lyk na 'n sprokies verhaal. Julle moet dit geniet hoor. In gees is ons saam met elke avontuur. Liefde van hierdie kant.