Tuesday, October 26, 2010

Die oog van die Emerate.

My pa werk weer 'n rukkie hier in die U.A.E., en sy werk stuur hom so een keer 'n jaar na die area.
En met die wat hy nie te ver van ons af is nie, het ons bietjie vir hom gaan kuier in sy hotel kamer. Die vorige keer was hy in Dubai, maar hierdie keer het hulle in Sharjah gewerk en woon.

Omdat die hotel bietjie te klein raak na 'n uur of 2 se kuier met ons klein rakkertjie, het ons besluit dat ons bietjie uit gaan vir die aand.

Ons het toe na Al Qasba toe gegaan. Dit is soos 'n laan waar daar klompie winkeltjies en resturante, goodies vir kindertjies en 'n kanaal waar mens op die abra houtbootjies kan ry. Dan is daar natuurlik 'n park vir die kinders met allerhande kiddie rides en speelgoed. So vir 'n aandjie was daar genoeg vir ons om ons vir 'n rukkie besig te hou en lekker te kuier.

Die 'EYE OF THE EMIRATES' is 'n reuse groot wiel wat 'n groot omgewings- uitsig bied oor Sharjah se corniche(strandfrond) en lagoons en die landskap van die emiraat. Mens kans selfs op die horison die buur-emiraat van Dubai, se groot geboue sien.

Elke 'cabin' van die 'eye of the emirates' het elkeen hul eie lugverkoelers in, en 'n knoppie wat mens kan druk as die hoogte en die swaai van die cabin vir jou te erg raak. Die hoogte van die wiel is 60 meter. En alhoewel dit nie hoog mag klink nie is dit nogal baie hoog vir iemand met hoogtevrees....

Daarna het ons 'n rustige rit in een van die abras gevat. Ons het die windjie wat op die water gewaai het so geniet. Want alhoewel dit al koeler raak is dit maar nog steeds baie warm met die humuditeit. En natuurlik is daar min dinge in die lewe wat mens so rustig maak soos water en 'n sagte atmosfeer van die stadsliggies in die agtergrond nie. En natuurlik op ons pad terug, kon hierdie klein dogtertjie (my ma) dit nie weerstaan om in die waterfontein te gaan staan en af koel nie. Toe word sy ook weer 'n kindertjie soos die res van die kinders wat wel daarin rondbaljaar het.



Mag die kindertjie in julle ook uitkom hierdie week, en wees geseend.

3 comments:

Ani said...

Hi

Wat 'n voorreg om jou pa so gereeld te sien. Dit moet wonderlik wees! Pragtige fotos, en dit lyk na 'n heerlike uitstappie!

Heerlike naweek vir julle!!

Thea said...

Julle is voorwaar gelukkig om mekaar so gereeld te sien! Hehehe... Ek sou saam met jou ma in daai fontein baljaar het as ek daar was! Dis mos 'n lekker manier om af te koel :-)

Sandra said...

En het julle niks by die Blou Souk gekoop nie?