Ons wou bietjie na Khalifa Park toe gegaan het om vir ons seunie trein te laat ry, maar toe ons by die park aankom, moes ons hoor dat hulle toe is en eers 3uur die middag oopmaak. Met dadda wat nagskof werk, sal dit nie werk as ons trein ry na drie nie, want hy moet gaan regmaak vir werk.
Wat nou en waarna toe was die volgende vraag? Ons besluit toe dat ons met die boot na Lulu Eiland toe wil gaan. Toe ons daar kom kry ons 'n bord wat darm in engels ook geskryf is, wat ons meedeel dat die eiland onbeperk gesluit is vir toeriste...
Ons besluit toe dat ons nie ons gaan laat onder kry nie, en gaan koop toe vir ons 'n lekker kouevleis en slaai broodjie by Subway, en daarna ry ons toe na 'n plekkie langs die see toe, soek vir ons 'n gaatjie uit om te sit en saam met die strandkatjies te eet.
Daar is mos niks so rustig en kalmerend soos water nie, en dan hang dit af waar jy eet - dan kan jy die water en ook hierdie pragtige stad uitsig he, en ek moet se soms is die uitsig van hierdie groeiende stad 'n mooi prentjie! Aan die linkerkant kan Lulu-eiland gesien word, wat ook dan nou dien as 'n tipe van 'n "Breakwater", en kalmeer die effens groter golfies tot 'n rustige amper spieelgladde area.
Daar was 'n paar van die locals ook wat dieselfde idee as ons gehad het.
Jaaa! Die warm goed was nodig. Glo dit of nie maar dit raak nogal baie koel hier in die woestynland. Ons het so paar weke terug gelag toe ons by een van die winkels kom en hulle pak hierdie warm klere uit, met die "furr" krae en fleece sweaters! En ons het regtig gedink hierdie mense weet nie wat koue is toe hulle begin koop nie. Maar nou verstaan ons beslis, daar is 'n ou gesegde wat se : "Wanneer jy in Rome is maak soos die Romeine." So ja, ons het beslis iets hieruit geleer.
En glo my so rustig as wat die stad van hierdie uitsig gesien word, so besig soos 'n miernes lyk hy wanneer jy hom in of deur ry. Hier kyk ons vanaf die oorkant van Abu-Dhabi(Corniche), na die stad, met die "breakwater" gedeelte op die voorgrond. Dit is 'n paradys vir bote en jetski's omdat die water so rustig is. Die broodjie was heerlik en heilsaam, en so ook die uitsig en die middag!