Ons het soos oudergewoonte weer by ons 'krappiestrand' gaan braai.

So met 'n lekker boereworsie op die kole het ons onder die maanlig langs die see gebraai en die heerlike briesie wat so nou en dan gewaai het geniet.
Terwyl Flattie en seuna sandkastele bou, het Hannetjie besluit om haar voete bietjie in die water te gaan afkoel, nie dat mens regtig meer kan afkoel in die water nie, wat dit self is al lekker warm,op die oomblik so amper 29 grade, maar sy wou ook maar nie te diep ingegaan het nie want in die aand is die vlak water vol blou krappe, en was sy toe maar heel versigtig vir die knyperige see diertjies...
Die volgende aand het ons so bietjie na die stad toe gegaan en so bietjie daar op die hoofstrand 'n heerlike koel koeldrank gaan drink met 'n ietsie ligs te ete. Maar mens kan sien hierdie ou Flattie is regtig 'flat' van die hitte, en selfs die koeldrank is nie genoeg om haar af te koel nie.
En die laaste aand van die kuier moes ons vir Hannietjie die Burj Khalifa met sy pragtige musiek fontein gaan wys het. Ons moes maar stadig loop met die tannies, want met die lugdruk en die humuditeit was dit vir hulle 'n uitdaging. Halfpad daarnatoe het ons eers 'n russie gevat, want die geswelde voetjies wou nie meer nie, en Flats sit toe bietjie onder hierdie pragtige beligte palmboom.











