...En toe ons ons ogies oopmaak, toe is al die slapies klaar geslaap.
Dit is die dag wat Oupa en Ouma kom om te kuier.
Maar voordat ons hulle op die lughawe in Dubai kan gaan kry, moet ons eers onsself reg kry vir die tog na Dubai toe. My liefie skryf eksamen in Dubai, so ons besluit toe dat ons saam ry tot by die Mall of the Emirates, en van daar af het ek en boeta 'n taxi geneem tot by die lughawe. Ons sien dat die vlug klaar geland het, en dat ons net betyds is. Ons wag langer as 'n uur, uiteindelik kry ek 'n oproep - dit is my pa - (eerste ding wat deur my kop gaan is wat nou?). My pa vertel my dat hulle een van hulle tasse nie gekry het nie. Na 'n lang storie, vertel hulle ons toe dat 'n hele paar passasiers se bagasie agter gehou is in SA omdat die vliegtuig bietjie vol was, maar hulle belowe dat ons dit die volgende dag 10 uur sal kry.
Uiteindelik sien ons oupa en ouma en die emosies hardloop hoog. Boetie kan nie wag om na hulle toe te hapet nie. Hy is in ouma se arms en hy geniet dit, hy weet nie of hy moet huil, skreeu of lag nie.
Na die groot ontmoeting gaan sit ons by 'n eetplekkie, om gou ietsie vir ontbyt in ons magies te kry, en na dit is dit die lang wag vir liefie om ons op die lughawe te kom kry, nadat hy sy eksamen geskryf het. Die plan was om sommer terwyl ons in Dubai is by 'n mall of 2 aan te gaan. Maar ons was skaars in die kar toe is Ouma in droomland en boeta ook. Ons besluit toe om maar huis toe te gaan.
Nadat ons by die huis gekom het en lekker koffie gedrink het, skep ons toe net bietjie asem en skraap bietjie moed bymekaar vir die hitte, want hierdie Suid Afrikaners ken nie van hierdie hitte nie, maar hulle wil beslis 'n bietjie hul voete in die see gaan sit.
Ons stop toe gou by 'n strandjie oppad na die stad toe, en die voetjies word gou genat, gou-gou word Ouma begroet met 'n see krappie. Hy knyp haar tone dat sy skoon op die water begin loop. Ons kon dit nie glo nie, want ons het nog nie 'n krappie so groot soos die een gekry wat mens so seer kan knyp nie en toe ons mooi kyk toe is daar sommer 'n magdom van hulle.
Wel dit was om die minste te se prettig ,en snaaks!
Nadat ons bietjie vir ons self gelag en die sand van ons voete afgeskud het, het ons die tradisionele Swarma's gaan koop(liefie gee dit altyd vir mense wat die eerste keer hier kom kuier,en mens kry sommer 'n gevoel van die stad se bloedvloei duer na die restaurant te ry in middel van die corniche).Ons gaan eet dit toe sommer dit by die hawe, terwyl ons die son sien sak oor die besige stad. Daar is niks so rustig en so lekker om mens se dag af te sluit as om langs die water sit en die uitsig te geniet nie.