Monday, September 7, 2009

Reguit van Bella Bella na Buffies toe.


Na ons lekker kuiertjie by Klein Kariba het ons na Buffelspoort toe gegaan, vir nog 'n week van lekker kuier en swem.

Toe ons by ons rondawel aankom, wag hierdie mooie swart kieterkat ons toe in, en verwelkom ons hartlik by ons huisie vir ons kuier.

Ons kleinman het natuurlik gedink dat dit Furby se pappa is, en gelukkig vir ons en hom was meneer kat baie vriendelik, en hy het die liefde van seuna gelief.


Omdat ons nie by ons familie en vriende gaan kuier het nie, het ons vir die wat kon gevra om vir ons by die oord te kom kuier, en so het Wynand vir 2 dae saam met ons by die oord deurgebring. Ons het lekker besigheid gesels en opgevang met dinge wat oral aan die gebeur is.

Rita en Andre sou ook kom kuier het, maar hulle seuntjie het waterpokkies gehad, en toe kon ons nou nie kuier soos beplan nie. Maar ons het darm 'n dag voordat ons terug gevlieg het 'n kort kuiertjie ingepas.


Kyk ons het werklikwaar nie net lekker weer gehad nie, maar ons het net so lekker gebraai. Mens kan mos nou nie kuier sonder 'n lekker vuurtjie wat sommer net na Afrika ruik nie, en dan kan mens nie braai sonder boerewors nie of hoe?




Die manne braai buite terwyl ons 'n slaaitjie of 2 aanmekaar slaan. Dit was nie regtig koud in die aande nie, net bietjie vars. - En daar is min dinge so lekker om so nou en dan 'n warm dingetjie aan te trek.



Die oord het wanneer dit donker geword het, so 'n half romantiese bekoring ingehou, veral met die blou lug en die pienk/pers van die mooi sonsondergange.

Die onderdak swembad was heerlik, en die water was ook heerlik, nie te warm nie en ook nie te koud nie, net lekker,-ons het elke geleentheid wat ons kon swem, gaan swem. Ons was soos visse in die water, en boeta het dit baaaaie geniet.


En so kom alle lekker dinge ook tot 'n end. Dit is nou wel die minder lekker van so lekker kuier, maar ons is dankbaar vir die tydjie wat ons wel saam met ons geliefdes kon spandeer.

Ons het die week en naweek afgesluit met 'n kiekie en daarna het ons by die pragtige Harties omgery terug huistoe.....

Saturday, September 5, 2009

'n Heerlike Naweek

Ons kuiertjie by Klein Kariba hierdie jaar was baie spesiaal.

Ons almal (met ander woorde al 4 my boeties en hul wederhelftes) was daar en kon dinge so reel dat niemand enige ander verpligtinge gehad het nie.(Wow, in die gejaagde lewe van vandag...!!)


En glo my dit was regtig baie lekker gewees om bietjie vir 2 dae net weer te kon opvang en net lekker te kon kuier. Ockie en Melissa het 'n nuwe kleinding ryker geword, en ons kon bietjie met die nuwe pop kennis maak en lekker gespeel.

Ons kleinman het natuurlik baie lekker met sy niggie gespeel en glo my hy het haar nie vir een oomblik gelos nie. Hy het haar op gespeel, en tussen die twee van hulle het hulle ook gesorg dat hulle pappas by 'ryk' geword het van al die plase wat hulle gekoop het. Shame hulle het hulle kniegies omtrent stukkend geval. Maar na 'n vreeslike tranedal het hulle dapper opgestaan en verder gespeel.,-seker gemaak dat hulle goeie benutting van elke sekond en uur kon uitkry.


Die weer was heerlik en ons kon regtig nie kla daaroor nie. Ons het lekker warm in die dag gekry, sonder om nat en taai te voel, en ons kon lekker in die aand met 'n veredons duvet geslaap het.


Almal kon lekker swem en in die water baljaar. Wat baie lekker is van klein kariba is dat hulle 'n warm water swembad onderdak het, en daar kon die kindertjies lekker swem sonder om koud te kry met die koel winters luggie wat soms buite gewaai het.

Die twee was soos vissies in die water en hulle het oupa Ockie en Dine se pappa Ockie lekker moeg gespeel in die swembad.


Selfs ons nuwe poplap Zante het haar beurt in die swembad gehad, sy is oor 'n paar daggies 'n volle 3 maande oud. Maar te cute vir woorde, sy is so bang sy mis iets opwindend. Maar sy is 'n baie gelukkige mensie, want sy het die hele naweek niks gehuil nie.


En hierdie klomp het 'n lekker laatnag swem ingepas nadat ons lekker gebraai het.


En hier speel oom Dewald met die twee karnallies voordat hulle almal die pad huistoe gevat het, ons het nog 'n dag langer gebly en toe na Buffelspoort toe gegaan.


....and we all fall down....